21
Nov
1

Motiverende spreker ,aktrise, skilder, joernalis, digter skrywer sakevrou en soveel meer!!

Ek is passievol oor die hart van die mens. Verhoudings is my eerste prioriteit hier op aarde. My verhouding met my Skepper, my man, my kind, my vriende, is vir my veel meer werd as my CV vol “prestasies”.

Nes jy is ek ook ’n vrou met ups en downs op haar lewenspad. My rys brand ook gereeld vas. Ek baklei ook oor die leë Jack Daniels-bottel en die toiletflap en die nat handdoeke op die grond. Ek wil graag die soetgoed van my siel met jou deel. Die dinge wat my uitlig as die lewe my met ’n vrot tamatie gooi.

Eerste wenk: As jy “af” voel, reik uit! Bak ’n appeltert of koop ’n bos goudgeel sonneblomme en gaan gee dit vir iemand wat nog swaarder as jy kry. Daar’s altyd iemand. Op hierdie webwerf wil ek graag hoor van jou blydskap en jou pyn. Ek wil hê ons moet mekaar ondersteun en ophelp as die son die dag nie wil skyn nie.

Kom ons drink gereeld ’n koppie sterk, soet tee saam – net om daai alledaagse katastrofes in elkeen van ons se lewens op sy plek te sit. “Laat ons die swaarkry met lekkerkry klaarkry.” (Langenhoven het dit gesê.)

Wat sê ons Hemelse Vader? (The Message, Filippense 4)

Celebrate God all day, every day. I mean, revel in Him (vers 4).

Don’t fret or worry. Instead of worrying, pray (vers 6).

Summing it all up, friends, I’d say you’ll do best by filling your minds and meditating on things true, noble, reputable, authentic, compelling, gracious – the best, not the worst; the beautiful, not the ugly; things to praise, not things to curse (vers 8).

Learn more ...

20
Nov
1

Ek is Soekie Krog (voorheen Rautenbach), beter bekend as Soekie van die Radikids .
Ek woon in Hartbeespoort saam met my man, Johan. Ons het saam sewe kinders.

Ek het op die ouderdom van 10 my lewe aan die Here gewy en altyd geweet dat daar ‘n roeping oor my lewe is om ‘n verskil te maak. Ek het in Wes Transvaal (Delareyville) groot geword en in Sannieshof gematrikuleer waarna ek vir twee jaar Bybelskool-opleiding ontvang het.

Kinderwerk was nog altyd my spesialiteit. Ek het vir ongeveer vyf jaar “Kleutertyd” op Radio Kansel aangebied, kitaar-onderrig vir kinders gegee en die eerste twee ‘Loflaaitie CD’s vir Jan de Wet afgerig.

In 1992 is my eerste kinder-CD vrygestel. Daarna het ek vir 12 jaar ‘n kindergroep gehad (die Radikids) met wie ek opgetree het en 9 kinder-gospel-CD’s die lig laat sien. Die solo-CD ‘Daffodills’ het ek spesiaal uitgebring na my seuntjie van vyf aan kanker gesterf het.

Ek bied tans Dinsdae en Donderdae oggende 10h00 die program ‘In die spieël’ op Radio Kansel aan. Asook ‘Soek die skat’ kleuter program op Woensdae.

Ek tree steeds by skole, kleuterskole, vroue-byeenkomste, kampe en ander byeenkomste op as sanger/ aanbiddings-leier en/of spreker.

Ek het ‘n passie om die Woord van God aan oud en jonk te bring op ‘n praktiese, treffende manier.

My kreatiwiteit is my sterkste gawe. Ek skryf gedigte en skilder graag.

Learn more ...

1

View my website
Jannie du Toit het in die vroeë sewentigs ontluik as sanger-liedjieskrywer in die groep TRILOGIE, wat gereeld opgetree het in MANGLES, `n folk-venue in Braamfontein, op toetsprogramme van SATV in 1975 verskyn het en in 1976 eervolle vermelding in die AMERICAN SONG FESTIVAL ontvang het.

Nadat hy homself as prokureur bekwaam het, word hy aangestel as kultuurbeampte aan die UNIVERSITEIT VAN PRETORIA, waar hy musiekblyspele skryf – onder andere saam met verhoog-doyen, Anna Neethling-Pohl. Hy werk destyds vir die befaamde verwerker en komponis van koormusiek, prof. Chris Lamprecht, en doen waardevolle ervaring op. Te danke aan die MUSIEK EN LIRIEK-BEWEGING in Afrikaanse musiek, word Jannie in 1979 ook bekend as solokunstenaar waar hy die verhoog deel met Koos du Plessis, Coenie de Villiers, Anton Goosen en ander kunstenaars wat hulle beywer het om die standaard van Afrikaanse musiek, veral ten opsigte van die tekste, te verhoog.

Hy maak vir die eerste keer kennis met die kabaret-verhoog toe hy paaie kruis met regisseur, digter en akademikus Stephan Bouwer in VAN BERLYN TOT BAPSFONTEIN waarin hy saam met Laurika Rauch optree. Die kabaret debuteer in 1988 in Club `58 in Hillbrow.

In 1986 begin ’n besondere vennootskap toe hy saam met Christa Steyn – hoogs begaafde pianis, komponis en verwerker – opdrag kry om `n program vir die Johannesburgse eeufeesvieringe aan te bied. Sy het toe reeds – na haar klassieke opleiding onder musiekmeesters Adolph Hallis en Pieter de Villiers – opgang gemaak as begeleier en liedjieskrywer vir verskillende Afrikaanse sangers, en hulle eerste gesamentlike poging is genoem BLIK EN SNAAR. Oor die afgelope een-en-twintig jaar is hulle betrokke by verhoogproduksies waaronder twee Nederlandstalige kabarette, die skryf en verwerking van liedjies, skryfwerkswinkels, vrystellings van etlike individuele CD’s, klankbane van produksies en heel onlangs `n DVD van hulle kabaret, JANNIE EN DIE TANNIE. Hulle toer oor die lengte en breedte van Suid-Afrika, en het in nie minder nie as twintig lande wêreldwyd opgetree en veral sinoniem geword met Afrikaanse musiek vir die kieskeurige luisteraar

Learn more ...

20
Nov
1

View my website
Dit was al singende op die skoolstoep waar Danie Botha se sangtalent as ‘n graad een-leerling deur ‘n onderwyseres raakgesien is. Sang en musiek was toe al reeds die begeerte van sy hart.

Hy is op 25 Junie 1964 in Pretoria gebore. Sy kinderjare bring hy deur op Rietvlei, ‘n kleinhoewe buite Rustenburg. Van kleintyd af is hy ‘n natuurmens en dit is dan ook waar hy steeds elke beskikbare tydjie deurbring. Staptogte, duik, jag of diepsee-visvang.

Op laerskool presteer hy as leier en uitstaande sportman met provinsiale kleure in rugby, krieket en stoei. Tog was sang vir hom steeds sy groot liefde en vertolk hy deur die loop van sy skoolloopbaan hoofrolle in operettes soos “Student Prince” en “Sound of Music”.

Dit is ook tydens hierdie hoërskooldae wat hy homself leer kitaar speel en as sanger en musikant by verskillende funksies begin optree.

Na hierdie vol en gelukkige jare op Rustenburg doen hy sy diensplig as lid van die Suid-Afrikaanse Weermag se Kanariekoor, waartydens hy as solis optree.

Na sy diensplig gaan studeer hy aan die Potchefstroomse Universiteit en behaal ‘n BA-graad in Bedryfs-en Personeelsielkunde. Musiek was egter steeds die passie van sy hart, en saam met die universiteit se dramaturg, Prof. Theunis Botha, bied hy tydens sy studentejare kamerkonserte regoor die land aan.

In 1988 begin Danie by Sanlam werk. Binne die eerste paar maande as sybaankandidaat word Danie se droom waar, en bevind hy homself oornag in ‘n voltydse sangloopbaan!

Met die SAUK se aanbieding van “Debuut” kon hy deelneem met sy eerste eie komposisie; “Wie kan dit verstaan”. Danie behaal ‘n tweede plek in hierdie kompetisie en word ‘n platekontrak aangebied. Saam met die kontrak word daar twee musiekvideo’s opgeneem en kon hy inskryf vir die TV-kompetisie “Teletreffers” . Hierdie gewilde TV-reeks besorg hom ‘n eerste en derde plek met “Wie kan dit verstaan” en “Wenners”! Na die uitsending van hierdie twee musiekvideo’s begin die telefoon lui en word Danie landwyd uitgenooi om sy musiek met die mense te kom deel.

Binne die daaropvolgende week bring hy ‘n orkes op die been, bedank sy werk en begin die land deurkruis met konserte. Sy eerste album, “Wenners,” behaal binne drie weke na vrystelling goue status. Sedertdien word daar meer as 75 000 eenhede van ‘Wenners” landwyd gespeel.

Vandag, sewentien jaar later, toer Danie steeds deur Suid-Afrika. Hy het in dié tyd vier sekulêre albums, vyftien geestelike albums en ses duet-CD’s vrygestel.

In 1993, neem Danie se loopbaan en lewe ‘n wending. ‘n Ongekende hongerte na die dieper betekenis en sin van die lewe het in sy hart kom brand. Dit was Jeremia 33:3 wat in hierdie tyd die antwoord op sy soeke was: “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot ondeurgrondelike dinge waarvan jy nie weet nie”.

Hy neem Jesus as sy Verlosser aan en gee aan Hom die totale beheer van sy lewe. Daarna voel Danie geroep om sy sangloopbaan toe te spits op die uitbreiding van die Evangelie van Jesus. Sy musiek het nog altyd die boodskap van hoop en lewenslus uitgedra, maar nou wou hy sing oor die Gewer van hierdie hoop en lewe.

Sedertdien bedien Danie inter-denominasioneel in kerke, in Suid-Afrika, Namibië en Nieu-Seeland

Op 28 September 1991 is Danie getroud. Hy het Daleen ontmoet tydens ‘n onderhoud wat sy met hom namens ‘n koerant moes voer. Albei het onmiddellik besef dat hulle lewensmaats is. Danya, hul dogtertjie, is op 6 Julie 2004 gebore. Na jare van afwagting is sy die grootste geskenk uit die Vaderhand!

Danie beskou sy sangloopbaan as ‘n groot voorreg en is dankbaar dat die land hom die geleentheid gee om dit met hulle te deel. Saam, sê Danie, kan ons mekaar help om “oorwinning” na te streef, ten spyte van die wipplank-oomblikke waaruit die lewe bestaan.

Ons hoor die boodskap van hoop in sy musiek, sien dit in sy lewensvreugde; en weet dan verseker saam met Danie: “Dat dit lekker is om te lewe!

Learn more ...

Kunstenaars

RSS Feed

Ons is ‘n kerk vir vandag en môre se mense. Eietydse, lewensgetroue en aktiewe dissipels van Jesus in en vir ons gemeenskap. Hier wil ons van vreem...

Opkomende optrede

There are no upcoming events.

View Calendar