Danie Botha

20
Nov
Danie Botha

View my website
Dit was al singende op die skoolstoep waar Danie Botha se sangtalent as ‘n graad een-leerling deur ‘n onderwyseres raakgesien is. Sang en musiek was toe al reeds die begeerte van sy hart.

Hy is op 25 Junie 1964 in Pretoria gebore. Sy kinderjare bring hy deur op Rietvlei, ‘n kleinhoewe buite Rustenburg. Van kleintyd af is hy ‘n natuurmens en dit is dan ook waar hy steeds elke beskikbare tydjie deurbring. Staptogte, duik, jag of diepsee-visvang.

Op laerskool presteer hy as leier en uitstaande sportman met provinsiale kleure in rugby, krieket en stoei. Tog was sang vir hom steeds sy groot liefde en vertolk hy deur die loop van sy skoolloopbaan hoofrolle in operettes soos “Student Prince” en “Sound of Music”.

Dit is ook tydens hierdie hoërskooldae wat hy homself leer kitaar speel en as sanger en musikant by verskillende funksies begin optree.

Na hierdie vol en gelukkige jare op Rustenburg doen hy sy diensplig as lid van die Suid-Afrikaanse Weermag se Kanariekoor, waartydens hy as solis optree.

Na sy diensplig gaan studeer hy aan die Potchefstroomse Universiteit en behaal ‘n BA-graad in Bedryfs-en Personeelsielkunde. Musiek was egter steeds die passie van sy hart, en saam met die universiteit se dramaturg, Prof. Theunis Botha, bied hy tydens sy studentejare kamerkonserte regoor die land aan.

In 1988 begin Danie by Sanlam werk. Binne die eerste paar maande as sybaankandidaat word Danie se droom waar, en bevind hy homself oornag in ‘n voltydse sangloopbaan!

Met die SAUK se aanbieding van “Debuut” kon hy deelneem met sy eerste eie komposisie; “Wie kan dit verstaan”. Danie behaal ‘n tweede plek in hierdie kompetisie en word ‘n platekontrak aangebied. Saam met die kontrak word daar twee musiekvideo’s opgeneem en kon hy inskryf vir die TV-kompetisie “Teletreffers” . Hierdie gewilde TV-reeks besorg hom ‘n eerste en derde plek met “Wie kan dit verstaan” en “Wenners”! Na die uitsending van hierdie twee musiekvideo’s begin die telefoon lui en word Danie landwyd uitgenooi om sy musiek met die mense te kom deel.

Binne die daaropvolgende week bring hy ‘n orkes op die been, bedank sy werk en begin die land deurkruis met konserte. Sy eerste album, “Wenners,” behaal binne drie weke na vrystelling goue status. Sedertdien word daar meer as 75 000 eenhede van ‘Wenners” landwyd gespeel.

Vandag, sewentien jaar later, toer Danie steeds deur Suid-Afrika. Hy het in dié tyd vier sekulêre albums, vyftien geestelike albums en ses duet-CD’s vrygestel.

In 1993, neem Danie se loopbaan en lewe ‘n wending. ‘n Ongekende hongerte na die dieper betekenis en sin van die lewe het in sy hart kom brand. Dit was Jeremia 33:3 wat in hierdie tyd die antwoord op sy soeke was: “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot ondeurgrondelike dinge waarvan jy nie weet nie”.

Hy neem Jesus as sy Verlosser aan en gee aan Hom die totale beheer van sy lewe. Daarna voel Danie geroep om sy sangloopbaan toe te spits op die uitbreiding van die Evangelie van Jesus. Sy musiek het nog altyd die boodskap van hoop en lewenslus uitgedra, maar nou wou hy sing oor die Gewer van hierdie hoop en lewe.

Sedertdien bedien Danie inter-denominasioneel in kerke, in Suid-Afrika, Namibië en Nieu-Seeland

Op 28 September 1991 is Danie getroud. Hy het Daleen ontmoet tydens ‘n onderhoud wat sy met hom namens ‘n koerant moes voer. Albei het onmiddellik besef dat hulle lewensmaats is. Danya, hul dogtertjie, is op 6 Julie 2004 gebore. Na jare van afwagting is sy die grootste geskenk uit die Vaderhand!

Danie beskou sy sangloopbaan as ‘n groot voorreg en is dankbaar dat die land hom die geleentheid gee om dit met hulle te deel. Saam, sê Danie, kan ons mekaar help om “oorwinning” na te streef, ten spyte van die wipplank-oomblikke waaruit die lewe bestaan.

Ons hoor die boodskap van hoop in sy musiek, sien dit in sy lewensvreugde; en weet dan verseker saam met Danie: “Dat dit lekker is om te lewe!

Kunstenaars

RSS Feed

Vir die nuutste inligting oor Covid-19 kan jy gerus die regering se webwerf besoek: https://sacoronavirus.co.za/   Ons is ‘n kerk vir vandag en môr...

Opkomende optrede

There are no upcoming events.

View Calendar